Augustus 2020.
Soos ‘n trotse boervrou haar beste familiesilwer en tafellinne uithaal wanneer sy ‘n gebakte skaapkop aan haar kuiergaste voorsit, sit hierdie Karootuin sy beste voetjie voor vir besoekers.
In ‘n vrugbare vallei gevoed deur waterstrome vanaf die Noordelike hange van die manjefieke Swartberge, blom ‘n plaastuin wat die spreekwoordelike ‘barheid’ van die Groot Karoo totaal weerspreek… en van die digter en skrywer, C. J. Langenhoven, se gesegtes was: “Daar is mense wat kan doen wat hulle wil, maar dit is die wat wil doen wat hulle kan”. Hierdie stukkie filosofie, kan nie ‘n meer tasbare bewys wees as die pragtuin van die Mirtehof landgoed in Prins Albert, wat in net sowat twee-en-‘n-halfjaar van niks af opgebou en aangeplant is nie.
Prins Albert het ‘n ryk geskiedenis wat selfs ‘n goudstormloop en koninklike invloede insluit, en eens die woonplek was van baie eksentrieke en rare karakters. Deesdae is dit die toevlugsoord van kunstenaars en kreatiewe siele wat die klatergoud van groot stede verruil het vir ‘n landelike bestaan op die platteland.
Een van die huidige eienaars van Mirtehof, dr. Bets Janse van Rensburg, het ‘n lang verbintenis met Prins Albert en toe die eiendom in die mark kom, het sy en haar gade Stevan Möller dit gekoop met die doel om dit te omskep in ‘n gastehuis en later as aftreeplek.
Na verbouings aan die opstal en die aanbou van losstaande gastehuisies, het hulle begin beplan aan Bets se droomtuin – ter herinnering en viering van die blomryke plaastuine van haar kinderjare. In die Fransie Pienaar-museum op die dorp, het Stevan op ou briewe van meer as ‘n 100 jaar gelede afgekom wat die tuin van Mirtehof toe beskryf het as ‘n lushof van rose, tuinblomme en vrugtebome. Dié tuin het egter gesneuwel tydens die volstruisbloeitydperk.
Laai die volledige artikel af.